Bedaar en erken dat Ek God is

Ds Ulrich Ohlhoff - 10 Januarie 2021

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

Bedaar en erken dat Ek God is

Ds Ulrich Ohlhoff

Skriflesing: Psalm 46 en Handelinge 7:54-60

Waaroor is jy tans bekommerd? My vermoede is dat meeste mense na ek hierdie vraag gevra het, waarskynlik ’n hele lysie van dinge sal kan opnoem. Bekommerd oor die jaar wat voorlê, bekommerd oor Corona en die styging in infeksies, bekommerd oor die ekonomie, bekommerd oor die politieke onstabiliteit in die land, ’n swak regering en ’n sukkelende munisipaliteit, bekommerd oor jou kinders, of hulle ok gaan wees, veral bekommerd oor hulle toekoms, bekommerd oor jou veiligheid, bekommerd oor of jy by alles gaan kan uitkom wat jy die week moet doen, bekommerd oor konflik wat daar is tussen jou en ander mense. Bekommerd of die meisie van jou hou, of jy gaan aanpas in die hoërskool, bekommerd of jy ’n sportspan gaan haal, bekommerd oor punte, toetse of eksamens, bekommerd dat jy nie alles kon plant wat jy wou nie, bekommerd dat dele van jou oes reeds verdrink het, bekommerd oor jou ouers, hulle en jou eie gesondheid.

Dalk kan jy nie eers spesifiek jou vinger op iets sit nie, jy kom net agter dat jy meer gespanne voel, jou humeur makliker verloor en dat alles die laaste ruk net voel of dit te veel word. Dalk voel jy net moeg om aan te gaan soos ons nou moet aangaan en voel net, jy sien nie kans om weer hierdie jaar met al die regulasies en gesukkel te moet leef nie.

Die moderne mens leef in een van die mees stresvolle tye nog in die geskiedenis, of ten minste so glo ons. Ons voel gespanne, ons lewens is vol van stres en vrees. Ons is angstig oor so baie dinge, maar waar kom dit vandaan? 

Dit kom vanuit ons brein. Dit is in ons gedagtes, in ons denke. Dit is in ’n sin vir my baie ironies dat ons hierdie wonderlike vermoë het om te kan dink, en ongelukkig is dit die grootste rede vir ons kommer en ons vrees. Ons vermoë om te kan dink het ons in staat gestel om die verlede weer en weer te bedink, om te kan vra hoekom het hierdie gebeur, hoekom het ek dit gedoen of dat gesê.  Ons brein stel ons in staat om te reflekteer oor die verlede, maar dan kan dit maklik gebeur dat ’n gebeurtenis wat reeds verby is nogsteeds vir ons spanning veroorsaak. Ons brein het natuurlik nie net die vermoë om oor die verlede te top nie, maar ook om ons toekoms in te verbeel! Dit stel ons in staat om te kan beplan vir die dag van môre, maar ongelukkig om ook daaroor te kan bekommer en vra te vra soos wat as dit gaan gebeur of hoe gaan môre lyk as hierdie of daardie, hoe gaan ek hierdie regkry of by alles uitkom? Ons het dus tesame met ons vermoë om te kan dink, die vermoë gekry om te kan bekommer. 

Die groot vraag vir ons vandag is wat maak ons met al hierdie bekommernisse? Vir gelowiges is dit altyd goed om die antwoord in die Skrif te gaan soek en dan ontdek ons in die Bybel, dat dit nie net ons is wat bekommerd is in ’n moderne tyd nie, maar dat bekommernis, vrees en angs nog altyd deel was van die mensdom. Psalm 46 help ons egter baie vanoggend om te weet wat ons moet doen. 

Psalm 46 wat geskryf is as ’n belydenis oor God,  na Israel oorwinning  teenoor vyande behaal het. 

Wat sê die Psalm? 

1. God is ons toevlug.

2. Hy is altyd bereid om te help.

3. Daarom hoef ons nie bang te wees nie en kan ons stil word in God se teenwoordigheid. 

Die skrywers van hierdie psalm (die koragiete, was ’n familie deel van die stam van Levi, wat in verskeie maniere diens gedoen het by die Tempel. Party as wagte, ander as musikante en ook die bekende profeet Samuel wat uit hierdie familie gekom het). Hulle kom dan in Psalm 46 en oordryf wat alles skeef kan loop om ’n punt te maak. Al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die see, al skud die berge, al maak die nasies geraas, al wankel koninkryke. Ons kan nog baie dinge hier by voeg, al sou daar nie vye wees nie, die beeskrale sonder beeste wees, al sou dit te veel reën en my oes versuip, al sou dit niks reën en dit is droog, al sou die ekonomie in duie stort, al sou… en jy kan vandag enige van jou vrese of bekommernisse hier byvoeg, dan sê Psalm 46 vir ons dat God steeds daar is en dat ons nie bang hoef te wees nie. 

Dit is die eerste ding wat ons as gelowiges moet besef in tye wat ons bekommerd is. God is hier in jou bekommernisse en Hy is bereid om te help. 

Vers 11 sê bedaar en erken dat Ek God is. 

Die eerste ding wat ek en jy in ons bekommernis en vrees moet doen is om te besef God is hier. Ons moet vir ’n oomblik net asem haal en onthou God is hier. Hy het ons nie gelos nie, Hy is by ons. Wanneer ons dit besef behoort ons en ek hoop elkeen ervaar dit so, ’n tweede keer te kan asem haal en besef as God hier by my is, kan ek by Hom skuil en ek hoop dit maak dat jy dan weer kan asem haal en rustig kan word in God se teenwoordigheid. 

Die probleem met kommer is dat ons brein geprogrameer is om ons te herhinner aan ons kommer, want ons brein wil hê ons moet ’n oplossing vind. Hoe meer ons bekommer hoe meer gaan ons brein dus ons aan die bekommernis herhinner. As ons dit net vir ’n oomblik kan breek en ons fokus op God kan plaas in plaas van die bekommernis, sit ons die teenoorgestelde proses aan die gang, waar ons toelaat dat God se Gees ons kalmeer en rustig maak. Daarom is dit so belangrik in tye van kommer om tyd uiteen te sit en moeite te doen om stil te word by God, Sy Woord te lees en dit te oordink, eerder as om aan te hou fokus op ons bekommernisse. Om dan eerder ons bekommernisse en vrese in gebed aan God oor te gee, te erken dat Hy God is en dan by Hom skuiling te vind. 

Die tweede belydenis van Psalm 46 dat God altyd bereid is om te help is ’n ietwat moeiliker deel om vanoggend aan te raak. Die rede daarvoor is omdat daar soveel keer in die verlede was wat God nie uitkoms gegee het nie. In elkgeval nie soos wat mense gebid, gevra of voor gehoop het nie. Ons kan na sekere gebeurtenisse kyk en selfs wonder of God enigsins daar betrokke was, maar dit is hier waar ons ewigheidsperspekteif moet behou. 

Om dit te illustreer gebruik ek Stefanus as voorbeeld en lees ek vinnig net vir ons ’n paar verse uit Handelinge 7:54-60. 

Hoe kan dit wees dat Stefanus terwyl hy gestenig word, kalm kan wees en sy fokus of gebed nie is Here red my nie, maar Here vergewe hulle? Stefanus het in daardie oomblik, so lees ons in Handelinge 7 God se teenwoordigheid beleef, wat hom kalmte gebring het. 

En het God hom gehelp? Is die tweede gedeelte van hierdie psalm waar vir Stefanus gewees? Indien ons na die feite kyk en sien dat hy gesterf het wil dit uit ’n menslike aardse perspektief lyk asof dit nie die geval is nie. Maar indien ons soos Stefanus vanuit ’n ewigheidsperspektief kyk dan weet ons God was daar om Stefanus se Gees te ontvang en saam met hom Hemel toe te neem. 

Wat is die punt? Dit gaan nie altyd vanuit ’n aardse perspektief lyk of God help nie, maar as ons bewus is van Sy teenwoordigheid sal ons dit wel insien. 

Ons leef in ’n baie spanningsvolle tyd. Ek kan nie vanoggend waarborg dat jy nie gaan siek word nie. EK kan nie waarborg dat jy ’n stabiele finansiële posisie sal behou nie, dat jou oes gaan deurkom of dat jou kinders ok gaan wees nie. Dit is nog nooit vir ons belowe nie, maar wat wel vir ons belowe is, is dat God ons nooit sal verlaat nie en dat ons in terme van ewigheid wel in SY hand veilig sal wees. Daarom hoef ons nie bekommerd te wees nie, daarom hoef ons nie bang te wees nie. 

Ek wil nie vandag ’n maklike antwoord gee vir moeilike omstandighede nie. Ek probeer nie sê hierdie gaan al jou probleme weg vat nie, maar ek glo hierdie kan jou help om tog rustiger daaroor te wees en vanuit ’n ander perspektief daarna te kyk. Ek wil ook vanoggend seker maak dat almal my reg verstaan dat ek nie sê ons maar net sonder omgee moet terugsit met ’n houding van wat gebeur moet maar gebeur nie.  Ek lees in die week hoe mense op sosiale media begin sê as ek dan moet siek word, moet ek maar siek word, of as ek dan iemand aansteek is dit maar so en hoor hulle rede, want God is mos in beheer. Nee dit is nie wat ek sê nie en dit is beslis nie, soos ons ook deur die week gesien het, ’n lewe van liefde nie. Nee ons moet steeds ons kant bring, ons moet steeds hard werk, ons bes doen om mense te beskerm, ons moet doen wat ons kan vir ons kinders, maar as ons alles gedoen het wat ons kan, kan ons in gebed stil word by God en ons spanning en kommer oor alles vir Hom gee en dan toelaat dat Hy vir jou rustigheid en vrede gee, met die wete dat, maak nie saak wat voorlê nie Hy daar is. Dan kan ons en ek glo hierdie is ook nodig, tyd maak om uit jou spanning en kommer te kom en al is dit net vir ’n rukkie, te gaan stap, of draf, of vir die berg te staar, of koffie gaan drink of iets wat jou verder kan help om net vir ’n oomblik te kan ontspan. Ek sal weereens hierdie week tydens ons oggendboodskappe meer hierop uitbrei. 

Gaan hierdie week, word stil by die Here, erken dat Hy God is en vind rus in Sy teenwoordigheid. 

Amen.

EREDIENSE

Nuutste Preke

Verloën jouself

Verloën jouself

Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …

Vrede waar geloof vrees verdryf

Vrede waar geloof vrees verdryf

Wat beteken “vrede” regtig? Vrede is nié ‘n oppervlakkige gemoedelikheid of welwillendheid ter wille van die vrede nie.