Wat die meeste saak maak vir God

Ds Gert Victor - 22 November 2020

DANKOFFERS

Elektroniese Oorbetalings:

NG Kerk Harrismith

ABSA (334633).

Tjekrek. Nr. 910580019

Wat die meeste saak maak vir God 

Sondag 22 November 2020 – Ds GD Victor 

Skriflesing: Miga 6:1-9a

 

Die afgelope week gesêls ons by ‘n geleentheid oor die jaar wat byna verby is. In baie opsigte was dit ‘n uitdagende jaar, en vir baie mense ‘n moeilike tyd. Meeste mense is gestroop van sekuriteite en luukshede. Baie kon nie vrylik rondbeweeg nie, nie met vakansie gaan of by familie en vriende gaan kuier nie, en dalk ook nie by ‘n oupa of ouma in die ouetehuis, of by ‘n vriend of familielid in die hospitaal nie. Kontak met mede-gelowiges kan ook nie gebeur soos gewoonlik nie. Daar was allerlei regulasies en inperkings waaraan ons moes voldoen, en waarskynlik nog steeds aan onderwerp is, en sommige daarvan het dalk nie sin gemaak nie. Baie besigheid-eienaars en individue se finansiële toekoms lyk erg onseker. Die effek en impak van die jaar 2020 gaan waarskynlik nog lank met ons wees.

In die tyd van Miga was gelowiges ook erg getraumatiseer en gedisoriënteer. Hulle het nie geweet wat om te doen en hoe om te reageer nie. En toe kry hulle hierdie antwoord van God in v.8 – “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is. Hy vra van jou : 1) dat jy reg sal laat geskied, 2) dat jy liefde en trou sal bewys, 3) dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God”.n Bekende teoloog som dit op met – “act justly ; love mercy ; walk humbly.”

Hierdie 3 dinge kan nooit van jou af weggevat word nie :

* om te lewe vir wat reg is (ook vir die belange van medemense, armes, behoeftiges)

* om alles in liefde te doen (ook wanneer jy opstaan vir wat reg is)

* om ‘n nederige afhanklike verhouding met God te hê in jou alledaagse lewe. 

Die eerste 5 verse van Miga 6 is in die vorm van ‘n hofsitting of ‘n regsaak waarin God die volk aankla… Hy het hulle uit Egipte verlos, hulle in die woestyn beskerm, hulle in ‘n nuwe land ingelei en versorg, maar hulle het dit vergeet. Deur die jare het die Here hulle geleer hoe om te lewe, maar hulle het dit nie konsekwent gedoen nie. Hulle het wél nog dinge vir die Here gedoen… nogal dramatiese dinge soos brandoffers, en uitnemende dinge soos jaaroud kalwers, en oorvloedige dinge soos duisende ramme en tienduisende houers vol olie, en kosbare dinge soos om hulle eersgeborenes aan die Here toe te wy… 

Dit was alles ook tekens dat dit met Israel nog baie goed gegaan het. T.s.v. groot onrus  en veranderinge op politieke gebied was die tempel goed versorg. Vir die eerste keer in jare was die inkomste meer as die begroting. Tóg het die Here met hulle hierdie hofsaak, en hoor hoe begin die Here Sy klag in v.3 – “My volk, wat het Ek jou aangedoen? Hoe het Ek jou moeg gemaak? Ek was nog altyd net goed vir jou. Ek het jou nog altyd versorg. Ek was nog die hele tyd by julle en lief vir julle…” 

Maar, in hulle verhouding met God en hulle naaste was daar ‘n groot leemte. Deur die jare het die Here vir hulle mooi duidelik gewys en geleer wat nodig is in hulle verhouding met Hom en met ander, maar hulle het dit nie ernstig opgeneem nie. Die stem van God roep hard en duidelik tot die stad : “Dien die Here! Want dit is wysheid!” Maar dit is asof hulle glad nie hierdie stem hoor nie. 

Die Here bevestig Sy liefde en sorg en verhouding met hulle, en hoor hoe reageer hulle in v.6 en 7 –  “Wat sal ek saamvat as ek na die hoë God toe gaan en voor Hom gaan kniel? Moet ek offers vat? Jaaroud kalwers? Duisende ramme? Tienduisende olie-offers? My eersgeborene, moet ek hóm gaan offer?” Dit is asof hulle dink hulle moet God se guns op ‘n manier wen en met Hom onderhandel. Intussen soek God nie hulle “goed” nie. Hy soek nie hulle besittings nie – Hy soek hulle hart en lewe!

Die Here se reaksie in v.8 is aangrypend – Mens (daarmee bedoel Hy die ganse mensdom, en ook jy en ek)… die Here het jou bekend gemaak wat goed is : Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God en v.9 – “Om die Here te dien is wysheid”… Dit is wat God van ons vra! 

Wat gee vandag sin en betekenis aan die lewe hier op aarde? Die navorser James Fowler sê dit hang af van wat ons waarde-kern is. En ons waarde-kern het te doen met hoe ons God verstaan. Die vraag is wie of wat is my God? Is Hy die kern van my lewe? As Hy my kern-waarde is sál die wêreld en die lewe sin maak. Jou waarde-kern bepaal hoe jy die lewe sien, en konstrueer, en verstaan, en hoe jy reageer in die lewe… Daarom sê die Woord tog “Bou jou huis op die rots!”, en Jesus sê oor Homself “Ek is die hoeksteen, die belangrikste steen van jou lewenshuis”, en iemand soos Dawid ontdek eeue gelede “Here, U is my Rots, my Veilige Vesting, my Toevlugsoord… U is my Waarde-Kern!!” 

As iets of iemand ánders as God dan in die waarde-kern van jou lewe kom staan begin dinge skeefloop. Dán begin ons afgode dien, wat in ons moderne tyd verskillende vorme aanneem… dinge soos welvaart, individualisme, humanisme, prestasie, selfs godsdiens kan God se plek in die kern van ons lewe kom inneem… Dán begin ons “goed” aanbid asof dit God is en behandel mense asof hulle goed is (“verbruikerskultuur”) en so word God al kleiner en kleiner vir baie mense… Hy word soos ‘n ou gryskop omie met ‘n lang wit baard wat ons dophou en straf, of soos ‘n polisieman, of marionette-meester, of besturende direkteur aan wie ons verantwoording moet doen.

Wie en hoe is God? Dit is ‘n vraag waarvan die antwoord deur die eeue nooit verander het, en ook nooit sal verander nie. Hy is die God wat Sy kinders uit slawerny lei… hulle na vryheid bring… in die geskiedenis ingryp sodat ons ‘n vervulde en sinvolle lewe kan hê. Ons kan hierdie God vertrou want Hy hou Sy beloftes.

Hy is die God van vrede. In Sy Koninkryk heers vrede, geregtigheid, waarheid, vryheid, heelheid, en versoening… Hy is die genadige Verbondsgod wat uitreik na mense en mense insluit in ‘n verhouding met Hom. Hy wil ons in liefde aan Hom verbind sodat ons Hom en ander medemense kan liefhê.

Iewers hoor ek die volgende pragtige storie wat ‘n goeie illustrasie is van hoe ons dikwels ook dink oor ons eie verhouding met die Here, en oor ons verantwoordelikheid voor Hom:

In ‘n sekere Karoo-dorp het ‘n klompie manne gebly wat gereeld bietjie te diep in bottel gekyk het. Hulle was klassieke karakters en van tyd-tot-tyd is een of meer van hulle gearresteer en voor die Magistraat gedaag.

So gebeur dit dat een van die ouens (Kobie Munnik – fiktief) gearresteer is en in die hof moes verskyn… dit was in die dae toe jy nie besope in die openbaar kon wees nie, en dit het gewoonlik ‘n boete en ‘n paar dae in die tronk beteken. 

Só roep die Magistraat toe dié dag Kobie Munnik se naam uit en vra hom om te staan… “Mnr Munnik (sê die Magistraat toe) jy word aangekla van openbare besopenheid. Hoe pleit jy?”

Ou Kobie (wat al ‘n paar keer in dieselfde situasie was) het geweet wat wag en besluit toe hy gaan dié keer ‘n nuwe ontwykingstaktiek probeer. Hy sê toe : “U edelagbare, u edele, as u nie omgee nie, sal ek graag myself vandag wil aankla…”

Die Magistraat se belangstelling is dadelik geprikkel, en met ‘n skalkse glimlaggie sê hy : “Goed, laat ons hoor.” En Kobie val daar weg… Hy noem homself allerhande verfoeilike en beskuldigende name – “Jakobus Munnik… jy is laag, gemeen en ruggraatloos. Die hele soutsee kan jou nie skoonwas nie. Jy het al jou verantwoordelikhede versaak. Jou hele lewe dink jy net aan jou eie selfsugtige behoeftes. En hier staan jy nou vandag. Alweer. En jy beroep jouself (alweer) op die genade van hierdie hof…” en só gaan dit aan… 

“Jy moenie dink jy gaan vandag genade kry nie, want jy verdien dit nie!”… en hy kyk so vir die Magistraat, en sê : “U edele-agbare, ek vind myself skuldig soos aangekla! En ek vonnis myself tot R200 boete en 30 dae in die selle. En ek bid dat die liewe Heer my sal help om my verkeerde paaie reg te sien!”

Die goedgesinde Magistraat was duidelik baie beïndruk en sê : “Kobie, ek dink jy bedoel dit hierdie keer. Ek komplimenteer jou vir jou eerlikheid”… Dis toé dat Kobie die Magistraat onderbreek met : “U edele! Ek het nog één ding om te sê : Ek skort my vonnis op!” 

Ons doen dit ook dikwels. Ons is dikwels so behep met onsself dat ons blind is vir wat God wil hê, en vir wat saak maak vir God…

Israel was skuldig soos aangekla, en só is óns óók. En ons kan nie ons eie vonnis opskort nie. Net God kan dit doen. En Hy doen dit in Christus ons Verlosser. Hy betaal ons boetes en dien ons straf uit.

Hoe kan ons dan nié bedagsaam voor Hom lewe nie?

Hoe kan ons dán Sy geregtigheid ignoreer?

Hoe kan ons nié liefde en trou aan mekaar bewys nie? 

Geloof is om die Here jou God lief te hê met jou hele hart, siel en verstand, en met álles wat jy is en het… dis om God te ken en te vertrou… om saam met Hom te leef… om te stap waar Hy stap… om aan Hom vas te hou selfs in die heel moeilikste tye van die lewe.

As God dan al hierdie dinge is – lewe, liefde, genade, vryheid, vrede, geregtigheid, waarheid, deernis, en nog oneindig meer… dan is dít hoe jy en ek wat saam met God op pad is óók moet leef. Ons moet streef na God (wie en wat Hy is) as die waarde-kern vir ons lewe. Dit beteken dat jy en ek onsself sal gee (steeds) vir God, en in diens aan ander… ook ander wat dalk ánders is.

Wat vra die Here? Lewe bedagsaam voor God (bedag op en bewus van Sy wil). Bewys liefde en trou (reik uit en gee om vir ander). Laat reg geskied (oral… in die openbare lewe, en in jou persoonlike lewe).

Geregtigheid is hoe ons liefde vir God in die openbaar lyk.

Mag dit jou lewensdoel wees – om regverdig voor God te lewe!    

Amen.

EREDIENSE

Nuutste Preke

Verloën jouself

Verloën jouself

Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk …